Thursday, 03 May 2007

Buck & Wilma

Kaptein William "Buck" Rogers en Kolonel Wilma Deering. Hulle was in die eighties van my gunsteling karakters op TV. En Twiki natuurlik en later het Hawk bygekom. Die episode wat ek die duidelikste kan onthou was die een waar daar 'n vampier verskyn (sien foto's). En aanvanklik kan net Wilma hom sien en sy's vrek bang, maar die ander dink sy's mal. Dan kry hy haar in die hande (letterlik), want sodra hy haar met sy pinkie (?!) teen haar nek druk, raak sy so psycho so asof hy haar gebyt het. Dalk het hy haar gebyt ook, maar dit kan ek nie so mooi onthou nie. Sy raak toe baie weird en amper vryerig met Buck (baie ongewoon) en wil hom ook ver-vampier. Hy skrik haar toe af met 1 of ander steen en toe spring sy en die vampier saam in 'n tuig of iets, en hulle is oppad na 'n warm dood aka die son (of iets wat vir my in st. 2 so gelyk het). Natuurlik het Buck vir Wilma gered. Ek kan nie presies onthou hoe nie, want ons was op 'n plaas naby Jansenville (Oos-Kaap, dink ek) en die ontvangs was nie great nie, en op 'n crucial tyd het die beeld in baie wasige sneeu verander. As ek nou so na die foto kyk, dan lyk die vampier natuurlik glad nie meer vir my so vreesaanjaend soos (ongeveer) 21 jaar gelede nie! (Ek vermoed dit het toentertyd dalk selfs vir 'n paar slapelose nagte gesorg.)

O, ja, en dit was natuurlik ook in die dae wat Wilma en Buck nog Afrikaans kon praat. En ek was mal oor Wilma se "lipgloss" look en het sulke glansende lippe begeer. En in my bendedae, het ek altyd seker gemaak almal weet my naam is Kolonel Wilma Deering.

"The year is 1987, and NASA launches the last of America's deep space probes. In a freak mishap, Ranger 3 and its pilot, Captain William "Buck" Rogers, are blown out of their trajectory into an orbit which freezes his life support systems, and returns Buck Rogers to Earth... 500 years later."

2 comments:

Christine said...

Eers Wilna Deering. En toe Elita de Klerk. Soveel dae, soveel bendename.

Yo Mary! said...

Hehe, en moenie van Selina Seekoei vergeet nie!